Povlakte

Die Povlakte in Noord-Italië in Januarie 2010, in digte mis gehul. Termiese inversies kom in die herfs- en wintermaande gereeld voor wanneer 'n laag warm lug oor 'n laag koeler lug uit die Alpe oor die gebied lê

Die Povlakte (Italiaans: Pianura Padana of Valle Padana), soms ook die Vlakte van Lombardye genoem, is die Noord-Italiaanse laagland tussen die Alpe in die noorde en weste, die Apennyne in die suide en die Golf van Venesië en die Adriatiese See in die ooste, waar die Porivier se delta in die Adriatiese See uitloop. Die gebied beslaan sowat 50 000 km2, strek oor 'n afstand van sowat 650 km van wes na oos en het 'n bevolkingsdigtheid van meer as 200 mense per km2. Die huidige vlakte was vroeër 'n baai van die Adriatiese See wat mettertyd aangevul is deur sedimente wat deur die Po en ander riviere uit die Alpe en Apennyne meegevoer is.

Die Povlakte
Die Castello Estense in Ferrara, magtige vesting en setel van die Este, een van Noord-Italië se vernaamste adellike geslagte wat hul stempel op boukuns, stadsbeplanning en die kunste afgedruk het

Die Povlakte is in 'n gematigde warm klimaatsone geleë. Nogtans verskil sy klimaat veral vanweë sy koue winters met dikwels mistige weer teenoor die res van Italië. Ook sy flora toon meer ooreenkomste met Sentraal-Europa.

Van oudsher is die Povlakte Italië se welvarendste streek wat in die Middeleeue en in die Renaissance-tydperk 'n ryk stedelike kultuur ontwikkel het waarin nedersettings soos Milaan, Turyn, Bologna, Mantua, Padua, Cremona en Parma as onafhanklike stadrepublieke of as setels van ambisieuse dinastieë bestaan het. Die streek se magtige adelfamilies en burgers het die kuns, argitektuur, wetenskappe, skilderkuns en musiek laat opbloei. Vanaf die tweede helfte van die 19de eeu het die streek vinnige industrialisering en verstedeliking ervaar. 'n Groot deel van die Italiaanse nywerhede is hier gevestig en landbouproduksie is ook besonder hoog.

Die vlakte is vernoem na die Po, wat met 'n lengte van sowat 675 km, Italië se langste rivier is. Die Po ontspring op die Monte Viso bergpiek (ook Monviso genoem, 3 841 m) in die Piëmontese Alpegebied op die grens tussen Frankryk en Italië en mond in die Adriatiese See uit.

Die Pobekken was vroeër 'n baai in die Adriatiese See wat mettertyd met sediment opgevul is. Die sediment is aangevoer deur talle riviere uit die Alpe (soos die Isonzo, Tagliamento, Livenza, Piave, Brenta en Adige), die Apennyne (Savio, Lamone, Reno) en deur die Po en sy syriviere (Mincio, Oglio, Adda, Ticino, Dora Baltea, Tanaro, Trebbia, Parma, Panaro). Hoewel die gebied hoofsaaklik 'n laagland is, is daar enkele heuwels en berge soos die heuwelland van Monferrato (716 m) by Turyn, die Euganese Heuwels (Colli Euganei) (605 m) en die Monti Beriei (444 m) suid van die stad Vicenza. Vanweë die omringende berge wat die westelike oseaanwinde afkeer, het die Povlakte 'n eiesoortige, kontinentale karakter met baie warm somers, warm en sonnige oorgangseisoene en koue winters.


Developed by StudentB